Op 1 Mei 2022 Werkersdag, het plaaswerkers van omliggende plase en areas waar CSAAWU werk, naamlik De Doorns, Rawsonville, Wolseley, Worcester en Robertson, saamgetrek om te praat oor hul omstandighede.
Hierdie jaar is dit die 10 jaar herdenking van die plaaswerkers se opstand in die Wes-Kaap wat in 2012 plaasgevind het, waartydens werkers opgestaan het teen lae lone asook swak werks- en lewens omstandighede. Vandag het dinge geensins verder verander nie want meestal van die faktore is nog onveranderd en word plaaswerkers nog altyd onwettig van plase afgesit.
Die storie van Aaron en agt ander werkers staar uitsettings in die gesig omdat hulle by die plaaswerker unie CWAASU aangesluit het. Aaron het op sy beurt die skare toegespreek, waar hy verduidelik het oor hul situasie en dat werkers eendragtig moet saamstaan.
In die ander geval, het plaaswerker Valencia haar beurt vertel wat met die plaaswerker gebeur het wat in ‘n trekkerongeluk gesterf het as gevolg van nalatigheid van die eienaar. Hierdie werker het ‘n gesin van drie kinders agtergelaat, waarvan die jongste een jaar oud is. Die eienaar het Bertie as een van sy getroue werkers beskryf, maar die manier hoe die gesin behandel is, het boekdele gespreek. Die woorde wat Valencia geuiter het is “dit is wat die boere van ons dink’ weerklink nog steeds in my geheue.
‘n Jeugdige werker is afgedank omdat hy gepraat het oor die werksomstandighede. Jakobus het genoem dat hy nie wil opeindig soos sy ouers wat hul oud gewerk het op die plase, sonder om iets agter te laat vir die nageslag nie.
Mawubuye Land Rights Movement en CSAAWU het ook ‘n bewusmaking veldtog geloods oor xenofobie. Die afgelope geskille tussen Zimbabwiese en Lesotho werkers, het weereens die kollig op xenofobie laat val. CSAAWU het hulle lede gevra om ander werkers se regte te respekteer, want alle werkers kry swaar en word verdruk deur die kommersiele boere en groot maatskappye, wat hulle vergryp aan die regte van werkers. Ongedokumenteerde werkers word gebruik vir goedkoop arbeid om wins te jag. Ons moet die probleem aanspreek en nie onder mekaar baklei nie.
Deneco Dube, rewolusionêre plaaswerker aktivis van CSAAWU, het verwys na die rassistiese wit plaasboere as die onderdrukkers en dat werkers nog steeds soos slawe werk en behandel word. ”Ons oumas en oupas het hard gewerk van sonsopkoms tot sonsondergang en het nie eens tyd gehad vir hulle self nie.”
“Daai tyd as jy gewerk het, was die geld baie min en jy word aangejaag om die werk te doen. By sommige kere word jy selfs geslaan tot die dood as jy nou iets gepraat het wat nie reg is nie. In die oggende, voor jy begin werk dan word daar eers vir jou wyn gegee om jou dronk te maak. So het die boere ons mense ook betaal partymaal. Ons roepkreet is dat werkers moet opstaan, saamstaan en saamveg en werkersorganisasies bou soos CSAAWU, Mawubuye en Inyanda.”