“Plant ‘n saad en laat dit groei!” Dit is die woorde wat Riaan Fillies, ‘n werker en koördineerder van ‘n gemeenskaplike tuin wat gevestig is in Robertson, gesê het oor ‘n klein gemeenskaplike bestaansboerdery wat tans aan die opbrengs is.
“Ongeveer drie jaar terug het ons een oggend besluit om ‘n openbare stuk grond skoon te maak wat gebruik was om rommel op te strooi en om ons gemeenskap skoon te hou”, sê Fillies. Maar nooit in sy wildste drome het hy gedink dit sal omskep word in n gemeenskapstuin waarby almal baat sal vind nie.
Dit was nogals moeilik, verduideluk Fillies, om die nodige bystand te kry, want hulle het nie eintlik geweet waar om hulp te kry nie. “Nadat ons die grond bewerk het, het ons ‘n behoefte gehad om tuin te maak, maar het nie oor die nodige kennis of toerusting beskik om die projek aan te pak nie.” Met net die basiese kennis van tuin maak, het hulle dit aangepak, maar is later met die uitdaging in die gesig gestaar dat hulle geen water het om hulle tuin nat te kon maak nie.
Hulle het n nabygeleë inwoner genader om ‘n waterpypaanleg te kry waar hulle R500 ‘n maand betaal vir die onkostes. Dit was baie moeilik om die maandelikse bedrag te kon betaal, want die meerderheid mense in die gemeenskap is werkloos en lewe maar van die hand tot die mond. Mense maak staat op die wins wat gemaak word as groente nou en dan verkoop word. Die pandemie het dit ook nog moeilik gemaak om te plant.
“Ons skenk ons groente vir die gemeenskap, waarvan ‘n plaaslike kleuterskool en ‘n tehuis vir bejaardes, van die begunstigdes is. Ons visie is dat ons die plaaslike groot handelsmarkte voorsien van ons groente en om meer mense betrokke te kry by ons projek,” sê Fillies.
“Ons beoog ook om ‘n werkswinkel aan te bied vir die jeugdiges en plaaslike skole, om hulle te leer tuin maak en meer selfversorgend te wees. Met die voedselpryse wat daagliks styg en ons mense wat swaarkry, moet ons ‘n manier vind om dit te kan bestry deur kos te plant,” sê Fillies.
Danksy ‘n organisasie genaamd Mawubuye Land Rights Forum, wat ook fokus op kleinskaalse boerderye, hulle ‘n donasie ontvang van verskeidenheid sade asook algemene tuintoerusting. Fillies sê “Op die huidige oomblik is patats, aartappels, kool en uie ingesit, wat byna gereed is om geoes te word die komende weke.”
Gideon Absalom, ‘n medewerker in die tuin, sê dat meer nog gedoen kan word as hulle die nodige steun kan kry vanaf die plaaslike munisipaliteit. “Ons het die bereidwilligheid en ywer om te werk, maar op die einde van die dag wil jy ook nie verniet werk nie. Ons het gesinne na wie ons moet omsien en wat moet eet. Maar dis ook nog lekkerder om groente huis toe te neem wat jy self geplant het” sê Absalom.
“Vir nou is dit van die hand tot die mond eers. Maar soos tyd verloop, sien ons uit om mense te leer van tuin maak en meer op te voed in die landbou sektor” voeg hy by. “Ons beplan ook om in verskeie gemenskappe werkswinkels vir die jeug aan te bied.”
“Ons almal op aarde kan vir onsself voedsel voorsien as ons net ‘n saad vat en plant!” voeg Fillies by.