‘n Jeugorganisasie in die Langeberg streek, Wes-Kaap, het ‘n werkswinkel geloods om die jeug meer te leer oor hoe om dinge vir hulself te doen, deur ‘n houtwerk sessie aan te bied. In ‘n informele nedersetting in Droëheuwel, Robertson, het sowat 50 jeugdiges bymekaargekom om bankies, stoeltjies, tafels asook plantbakke te bou. Die organiseerder, Denia Jansen, ‘n aktivis en vryheidsvegter van Mawubuye Land Rights Forum, het die jeug toegespreek oor die talle probleme wat hulle in die gesig staar, asook positiewe maniere waarby die jeug kan betrokke wees.

“Dis nie net nodig om heeldag op die straathoeke te sit en wag vir werk of uitkyk vir werk nie. Jy kan jou eie baas wees as jy net probeer om ‘n positiewe stap in ‘n rigting te kry. Die werkswinkel is reeds hier om ons jeug meer te inspireer om dinge vir hulself te kan doen. Ons beplan om ‘n Jeug Indabadag te hou waartydens die jeug hul verskeie items kan verkoop wat hul gemaak het,” verduidelik Jansen.

Een van die jeugdiges wat die werkswinkel bygewoon het, Ashwin Jeneke, het op sy beurt ook die jeug toegespreek en hul bemoedig om nie op te gee op hul toekoms nie. “Dit is presies 46 jaar sedert die groot opstand in Soweto waar die jeugdiges bymekaargekom het en as een saamgestaan het teen die destydse regering, wat nie ons regte raakgesien het nie. Nog steeds ervaar ons jeug die struggle vir basiese onderrig, soos ons gesien het met die Fees Must Fall-veldtog, waar ons jeug nog sukkel met fondse vir tersiere onderrig,” sê Jeneke.

Jeneke verduidelik voorts, “Ons kry nie eens behoorlike werk nie, al het jy matriek of ‘n kwalifikasie agter jou naam. My hart raak so seer as ek ons jeugdiges, met matriek, sien werk op die plase. Ons gaan agteruit en moet self-maar struggle om aan iets te kom. Ek is so dankbaar dat CWAASU en Inyanda National Land Rights Movement ‘n werkswinkel soos dié vir die jeug kon aanbied, sodat ons meer dinge vir onsself kan doen en ons jeug meer betrek by hul aktiwiteite aan die einde van die dag”. Die jeug het ook prettige aktiwiteite gehad waar hul teen mekaar speletjies gespeel het soos toutrek, saksprong, lepel en eier resies asook dans.

Die dag daarna, op die 17de Junie, het Mawubuye Land Rights Forum en CSAAWU die jeug verenig in die informele nedersetting Panorama in Robertson, waar ‘n sportdag gehou is ter ere van Jeugmaand. Die jeugdiges het krieket, netbal en inheemse speletjies gespeel waarby daar ook ‘n dansgroep was van Montague en plaaslike jeug van Zolani in Ashton wat die jeug op hul voete gehad het met hulle danspassies en uitrustings. Daar was ook ‘n vertoning van n plaaslike kletsrymkunstenaar ‘’OB’’ wat die jeug op hul voete gehad het met sy woorde.

Die visie was om n sterk band te bou met die jeug in organisasies soos Mawubuye Land Rights Forum, Inyanda National Land Movement en CSAAWU. Die jeug moet hoop bou in tye soos die en ook opkom met probleemoplossings vaardighede en alternatiewe ideologiese raamwerke.

Comments are disabled.